Baie dankie dat jy vir my kom kuier het!
Kriewels in my Siel, is ‘n canvas waarop ek met woorde die lewe deur my oë skilder.
In 2014 het ek die begeerte ervaar om die stories en woorde wat deur my kop maal te begin neerskryf.
Van kleintyd af het ek graag opstelle en per geleentheid ‘n gedig of twee geskryf.
Vermoedelik het ek my liefde vir woorde van my pa geërf - hy het ‘n slag met woorde gehad!
Ek flop gruwelooslik met feite maar my verbeelding maak op daarvoor.
Na ons rekord eksamen in Matriek het ons kwaai Afrikaanse onderwyseres vir my gesê dat ek ‘n skryf-talent het.
Ek was vreeslik ingenome met die kompliment! Baie, baie jare later lees ek toe op Facebook hoe ‘n klasmaat van daardie tyd skryf,
dat die einste juffrou dieselfde kompliment aan haar gegee het en ek besef dat ek toe nou nie so besonders was nie!
Ek is so dankbaar dat ek vir soveel jare ‘uitsonderlik’ kon voel en nooit geweet het dat sy daardie kompliment-geskenk aan ‘n hele paar klasmaats uitgedeel het nie.
Ek dink nog dat dit te danke is aan die selfvertroue waarmee sy my gebless het met daardie kompliment, dat ek die moed gehad het om my woorde op ‘n platvorm soos Facebook te kon deel.
Ek skryf nie om enige een te beïndruk nie, maar omdat dit vir my die heerlikste vorm van terapie is.
Met groot opgewondenheid het ek teen die einde van 2020 my eerste boek laat druk onder aanmoediging en ondersteuning van my dierbare boet.
Dit is ‘n samevatting van ‘n versameling van my gunsteling Kriewels.
Ek hoop dat jy een sal bestel en so my kleurryke reis deur die lewe, saam met my geniet.
Hieronder volg ‘n paar uittreksels uit gedigte wat ek geskryf het.